Gabriëlskloof, ‘n wyn-en-olyf juweel van die Overberg, vier die koms van die lente met ‘n knuppeldik Kosblik ervaring wat besoekers uitnooi om die plaas se idilliese ligging op die koppie buite Botrivier, al fresco styl te geniet.
Vanaf 1 September tot en met die einde van die somer, sal hierdie boks van seisoenale smulgenot vriende en families na buite lok om in dié landgoed se salige binnehof een te word met die natuur terwyl hul kommervry op die gras, weglê aan heilsame, vars voorbereide happies vanuit die kombuis.
“Ons restaurant en proekamer loop uit op ‘n lowergroen grasperk en glinsterende dammetjies, of soos wat ons dit noem ‘die hart van ons landgoed’. Dit bied die perfekte oase vir jou om jou kombers te kom sprei en jou skoene uit te skop vir ‘n luilekker middag, vêr weg van die gejaagde lewe. Let wel Gabriëlskloof is nie jou tipiese piekniek-plaas waar jy tussen hordes sambrele moet veg vir jou plekkie in die son nie. Ons nuwe ‘piekniek-styl middagete in ‘n boks’ oftewel Kosblik ervaring is meer vir daardie intieme buitelugkuiers weg van die gewoel,” verduidelik Nicolene Finlayson, Proekamer Bestuurder.
Teen R300 bied die Gabriëlskloof Kosblik meer as genoeg vir twee volwassenes en sluit in biltong gespeseryde beesbraad (roast beef), parmaham, hoenderlewer parfait, vark en eend rillettes, mini Overberg lamsvleispasteitjies en gerookte Weskus snoek quiche. Roosterkoeke met kase vanaf naburige plase en tuisgemaakte waatlemoen-, groenvye- en koeksisterkonfyt verleen ‘n ‘local is lekker’ smaak aan die boks, terwyl ‘n lipkekker slaai duo die heerlike weer met ope arms vier. Gabriëlskloof se poskaartmooi uitsig vanaf die koppie is net so ‘n groot bederf soos die Sjokolade Marquise potjies wat saam met elke kosblik kom.
Die jongspan kan aandring op hulle eie Onder 10 VIP kosblikkie teen R75 per kind, wat ‘n kaas-en-hamrolletjie, jogurt, kaaswiggies, sap, skyfies, ‘n vrug en outydse lekkers insluit.
Hierdie al fresco bederf smag om met bekroonde landgoedwyne geniet te word en gelukkig bied Gabriëlskloof ‘n gesogte versameling in sy gesellige proekamer. Of loer in by die deli op die plaas vir ‘n paar craft biere en ander unieke verversings en maak ook seker jy tap vir jou ‘n potjie van die landgoed se heuning om huis toe te neem.
Gabriëlskloof Restaurant, bekend vir sy koesterkos wat die siel van die streek smaakvol laat seëvier, sal ook op 1 September sy nuwe Lente/Somerspyskaart onthul. Diegene wat nie buite op die gras wil ontspan nie kan hulle kosheil vind in die gewilde restaurant of salig op die buitestoep met sy Franse-plattelandse flair hulle batterye herlaai met ‘n informele wynproe en iets te ete.
Die Gabriëlskloof Kosblik asook die restaurant se A la Carte en Deli spyskaarte gaan op ‘n gereelde basis van baadjie verander, afhangende van Sjef Frans Groenewald se inspirasie, die weer en watter tuisgemaakte produkte in sy spens skuil.
Gabriëlskloof is oop vir middagete en wynproeë vanaf Maandae tot Saterdae – toe op Dinsdae – en voorafbesprekings vir die Kosblik ervaring is noodsaaklik. Vir meer inligting en besprekings skakel Tel: 028 284 9865 of stuur ‘n epos na restaurant@gabrielskloof.co.za.
- Gabriëlskloof kry Franse flair vir sy viering van l’amour - February 6, 2018
- Gabriëlskloof goes French for its celebration of l’amour - February 6, 2018
- Gabriëlskloof Salutes Festive Season With Sumptuous Fare - November 1, 2017