Absa 2015 Top 5 Olyfolies Onthul

Die room van die Suid-Afrikaanse ekstrasuiwer olyfolie-oes is onthul by die Absa Top 5 olyfolietoekennings wat vandag (Woensdag, 14 Oktober) by Café Bon Bon in Franschhoek plaasgevind het. Andante, De Boerin, Kransfontein en Mulderbosch het erkenning ontvang as die voorste produsente, nadat hulle ‘n indrukwekkende opposisie van olyfoliename vir die gesogte Top 5 posisies uitgestof het.

ABSA Top 5

Die Absa Top 5 toekennings is toegeken aan: Andante-ekstrasuiwer olyfolie (medium) en Andante Intenso-ekstrasuiwer olyfolie (intens) deur Porterville Olywe, De Boerin-ekstrasuiwer olyfolie (medium), Kransfontein Coratina-olyfolie (intens) en Mulderbosch-ekstrasuiwer olyfolie (intens).

Die naaswenners is: De Rustica Mountain Press-ekstrasuiwer olyfolie (medium), Mont Rouge-ekstrasuiwer olyfolie (medium), Rio Largo-ekstrasuiwer olyfolie (delikaat), Tokara Mission-ekstrasuiwer olyfolie (delikaat) en Tokara Premium-ekstrasuiwer olyfolie (intens).

SA Olive en Absa het die Top 5 kompetisie in 2013 geloods as ‘n verlenging van die jaarlikse SA Olive toekennings. Die 20 toppresterende olyfolies kwalifiseer om vir die Top 5 oorweeg te word. Dit is geen geringe prestasie nie in ag genome dat die balans van vrugtigheid, bitterheid en speseryagtigheid alles in harmonie moet wees. Tien finaliste word uit hierdie poel gekies en uitgedun tot die Top 5.

Die kompetisie bied ‘n platform vir die Suid-Afrikaanse olyfoliebedryf om hul heel beste ten toon te stel. Suid-Afrikaanse olyfolies ontvang gereeld internasionale erkenning vir hul gehalte en eiesoortigheid, en kompetisies soos die Absa Top 5 vervul ‘n sleutelrol om plaaslike verbruikers op te voed oor die bedryf en hul diverse spektrum voortreflike, wêreldklas produkte. Willie Zastron, provinsiale hoof van besigheidsbankdienste in die Wes-Kaap, het gesê:

“Ek wil graag al die deelnemers en wenners in vanjaar se Absa Top 5 olyfolietoekennings gelukwens. Ons wens al die finaliste groot sukses toe op hul reis in die maak van olyfolie en hoop dat hulle voortgesette vooruitgang sal geniet. Absa is trots om die olyfoliebedryf te ondersteun en om geassosieer te word met hierdie invloedryke kompetisie, wat as aansporing dien vir produsente om konsekwent kwaliteit olyfolies te produseer. Ons glo dat die erkenning van bedryfsrolspelers deur kompetisies soos die Top 5 ook ‘n reuse bydrae lewer om mededingendheid te bevorder. Belangriker nog, is hierdie bedryf arbeidsintensief, wat beteken dat dit broodnodige werk skep. Absa is trots om verbind te word met ‘n bedryf wat ook internasionaal in statuur groei.”

Absa top 5 winners

Die Top 5 proepaneel is gelei deur Mauro Amelio, geakkrediteerde paneelleier van die Internasionale Olyfolieraad (IOC), en het ook die Suid-Afrikaanse bedryfskenners Gerrie Duvenage, Kelly White, Leonard Arangies, Louise Rabie, Reni Hildenbrand, Robert Claasens en Benedetta Lami ingesluit.   Hierdie plaaslike proeërs het almal ‘n amptelike beoordelingskursus afgelê en die internasionale drempelvlaktoets geslaag.

SA Olive Association

SA Olive Association

SA Olive is an association representing the common interests of the South African olive industry. SA Olive members consist of olive growers, olive oil producers, table olive producers, tree nurseries and olive importers.
SA Olive Association

Latest posts by SA Olive Association (see all)