SA Olive Se Mentorskap-Toekennings Oorhandig

SA Olive Mentorship Awards

Esolda Cilliers van Willow Creek Products is aangewys as die ontvanger van die SA Olive Mentorskap-toekenning vir 2015. Hierdie aankondiging is gemaak by die jaarlikse SA Olive-toekenningsgeleentheid wat Donderdag, 3 September plaasgevind het.

SA Olive het hul mentorskap-program in 2008 van stapel gestuur met die doel om ‘n nuwe generasie olyfolieverbouers en -makers op te lei. Dit is ‘n bedryfsbefondsde program wat moontlik gemaak word deur nasionale en plaaslike regeringstoelae. Die deelnemers aan die program is werkers in diens van SA Olive se verskeie ledeprodusente.

Die ander finaliste in die wedloop vir vanjaar se Mentorskap-toekenning was Javin Beukes (Mount Ceder), Piet Visser (Olyfberg), Vivian Otto (Olyvenbosch), Joslyn von Williegh (Goedgedacht) en Eunice Thandiswa (Cape Olive).

As uitbreiding van die jaarlikse Mentorskap-toekenning, het SA Olive in samewerking met Linda Costa van Olives in Fact vanjaar ‘n geborgde Olyfolieproe- en waarderingskursus aangebied. Avril Davids (Tokara) is geïdentifiseer as die proeër met die belowendste palet.

Die mentorskap-program het ‘n onuitwisbare impak gemaak op die lewens van meer as 200 deelnemers, hul families en landelike gemeenskappe. Vanjaar is 113 deelnemers geregistreer, waarvan talle reeds sedert die ontstaan van die program daarby betrokke is, en op hul beurt mentors geword het wat hul kennis en vaardighede met nuwe programtoetreeders deel.

Dit was vir die beoordelaarspaneel moeilik om ‘n wenner uit te sonder, aangesien al die finaliste geweldige persoonlike ontwikkeling getoon het oor die duur van hul betrokkenheid by die program. In hul onderhoude het al die finaliste beklemtoon dat die program hulle toegerus het met die nodige selfoortuiging om hul loopbane in die olyfoliebedryf te bevorder. Die wenner, Esolda, is die toonbeeld hiervan – ten spyte daarvan dat sy nie matriek kon slaag nie, het hierdie werkende ma groot persoonlike teëspoed oorkom om ‘n logistieke bestuurder te word, bemagtig met die wete dat sy enigiets kan bereik in haar loopbaan.

SA Olive Association

SA Olive is an association representing the common interests of the South African olive industry. SA Olive members consist of olive growers, olive oil producers, table olive producers, tree nurseries and olive importers.
SA Olive Association

Latest posts by SA Olive Association (see all)