SA Olive Toekennings: Oomblik Van Waarheid Is Hier

SA Olive Association

‘n Span top proeërs het vandeesweek by Nederburg saamgetrek om die deelnemers vir die 2015 SA Olive-toekennings onder die loep te neem. Dié kompetisie, wat vanjaar vir die 10de keer aangebied word, het 91 inskrywings gelok wat individueel oor vier dae beoordeel sal word in die soeke na Suid-Afrika se beste ekstrasuiwer olyfolies.

Die hoogaangeskrewe proepaneel bestaan uit die internasionale olyfoliekenner Mauro Amelio van Italië se nasionale vereniging vir olyfolieproeërs (ONAOO), asook die plaaslike olyfoliekenners Gerrie Duvenage, Kelly White, Leonard Arangies, Louise Rabie, Reni Hildenbrand, Robert Claasens, Benedetta Lami en Anne-Marie Ferreira. Amelio, wat as paneelleier geakkrediteer is deur die Internasionale Olyfolieraad (IOC), het reeds ‘n groot aantal paneel- en drempelvlakkursusse regoor die wêreld aangebied en is by ONAOO geaffilieer as ‘n tutor, proeër en wetenskaplike adviseur. Die plaaslike proeërs het almal ‘n amptelike beoordelingskursus afgelê en die internasionale drempelvlaktoets geslaag.

Medaljewenners in die Delikate, Medium en Intense Ekstrasuiwer Olyfolie-kategorieë sal volgens kwaliteit, kompleksiteit en balans van aroma en smaak beoordeel word tydens die vierdaagse blinde proe vanaf 11-14 Augustus.

Die toppresterende olyfolies in elke kategorie, sowel as die Olyf-presteerder van die Jaar en die ontvanger van die Mentorskap-toekenning sal aangekondig word tydens ‘n glansryke toekenningsgeleentheid by Ashanti-landgoed op 3 September.

Vir meer inligting kontak Surita van der Westhuyzen telefonies op 021 863 1599, e-pos surita@efpromosies.co.za of besoek www.saolive.co.za.

SA Olive Association
Latest posts by SA Olive Association (see all)