Gabriëlskloof se Favourite Things Mark – ‘n fees vir jou sintuie

Vir ‘n smakie van die goeie lewe verryk met hartlike, plattelandse gasvryheid, haas jou na Gabriëlskloof Landgoed buite Botrivier, wanneer hierdie familieplaas sy binnehof gaan omskep met sy gewilde Favourite Things Mark van uitnemende plaaslike talent op 11 en 12 Desember 2015.Gabrielskloof Favourite Things Market

Glansryk getooi om die hart warm te laat klop en die Feesseisoen op ‘n hoë noot af te skop, bied hierdie jaarlikse mark ‘n sielsverkwikkende koop-en-kuier geleentheid en lafenis vir die Kersmarkkoors, weg van die gewoel van winkelsentrums. De laaste mooi, vars en lekker tuis- en handgemaakte produk wat by die kleurvolle stalletjies te koop is, is iets unieks wat dié wyn- en olyfplaas se persoonlike goedkeuring wegdra.

“Ons mark is ‘n vrolikheid van ‘n ander stoffasie. Ons fokus op die wonderlike, mooi, lekker en unieke goed wat die uiters talentvolle mense van die Overberg omgewing maak,” gesels Nicolene Finlayson, die kreatiewe organiseerder van hierdie sensoriese mark.

Al die sintuie word bekoor sodra jy voet sit in die landgoed se binnehof met sy glinsterende dammetjies en lowergroen grasperk, die hart van die Favourite Things Mark, waar jonk en oud kom uitspan vir ‘n ‘kuier op die koppie’.

Dink egte en oorspronklike produkte en interessante kunstenaars en skeppers; vars en kunstig bereide smulhappies; oesters en vonkelwyn, asook craft biere wat wink om geniet te word. En natuurlike ‘n glasie of twee van Gabriëlskloof se bekroonde wyne wanneer jy asem skep gedurende jou kaleidoskoop koopervaringGabrielskloof Favourite Things Market LR (12)

“Ons noem ook ons mark ‘Almal se Gunsteling’ siende daar regtig iets vir almal is en dit al die sintuie met oorgawe stimuleer. By ons sien, hap, tap, voel en vat jy aan alles wat plaaslik, lekker en mooi is,” voeg Nicolene by.

Vat: Handgemaakte leerhandsakke, gedrukte lap met illustrasies van die Overberg se fynbos en aalwyne; sag en stylvolle klere gemaak van die fynste Alpakka-wol; byderwetse babagoed, en allerhande eksentrieke tierlantyntjies.
meer…
Favourite Things Mark tweede en laaste…/

Sien: Egte silwerware; oudhede en vintage ware; spogjuwele van twee plaaslike ontwerpers asook besonderse keramiekwerk.

Ruik: Vars brode vanaf Baardskeerdersbos; Natuurlike skoonheidsprodukte; laventel-luukshede vanuit die Hemel en Aarde Vallei, en organiese velprodukte en pamperlangbederf vanuit Tesselaarsdal.

Proe: Gabriëlskloof se eie restaurant gaan sy formele spyskaart verruil vir ‘n bistro-styl aanbieding en besoekers se smullus sus met lekkernye soos ‘n piekniekboks vir paartjies om te deel, fynproewer hamburgers en hulle immergewilde sout-en-peper calamari. Die landgoed se deli sal ook spog met alles wat dekadent is. Ander watertand aanloklikhede sluit in ‘n kos-trok oftewel ‘food truck’ en ‘n teehuis op wiele; plaasheuning en –botter; organiese sjokolades; bokmelkkase; bereide (cured) vleis vanaf Stanford; pestos, soesji en ‘perlemoen en rys’ vanuit Gansbaai se hawe.

Gabriëlskloof se Favourite Things Mark vind plaas op Vrydag, 11 Desember vanaf 5nm tot 9nm en op Saterdag, 12 Desember vanaf 11vm tot 9nm. Toegang is gratis.

Vir meer inligting skakel Nicolene Finlayson by Tel: 028 284 9865, stuur ‘n epos na nicolene@gabrielskloof.co.za of gaan like die gebeurtenis op Gabriëlskloof se Facebook bladsy https://www.facebook.com/events/741193519326032/.

Gabriëlskloof Landgoed is op die Swartrivier Pad, vanaf die N2 net anderkant Botrivier.

Gabrielskloof

Gabrielskloof

Gabriëlskloof is a family owned and run wine estate just off the N2 outside Botrivier. With sweeping views of the Babilonstoren mountains and the surrounding wheat fields, understated architecture and stylish, comfortable interiors, our aim is to show visitors true Overberg hospitality.
Gabrielskloof